Thursday, May 13, 2010

Anja se geboorte









Aangesien ek die blog ook gebruik vir 'n dagboek vir my nageslag, wil ek graag die afgelope paar weke vasvang in 'n opsomming:

Aangesien Heleen 2 uiters moeilike swangerskappe reeds beleef het, het die ginokoloog besluit om Heleen vroeg op te neem in die hospitaal en haar te monitor vir 'n week lank. Dit was 'n moeilike besluit want jy wil nie te lank wag nie, maar ook nie vir Anja te vroer uithaal nie. Hulle het besluit om haar uit te haal op 34 weke.

Ek moes natuurlik na Mia omsien met die hulp van Oumas en Oupas. Hierdie was 'n uiters stresvolle tyd, aangesien Heleen baie hoe risiko was en dat daar geen waarborge was vir 'n suksesvolle bevalling nie al was sy in die hospitaal. Met 'n volledige abruptio soos wat met Erik gebeur het, sou die hospitaal ook nie Anja se lewe kon red nie.

Eindelik het die dag aangebreek. Heleen sou die eerste pasient wees die oggend. Ek was ongelooflik op my senuwees. Ek moes 'n groen pakkie aantrek met kots daarop en 'n hoedjie op my kop. Ek het belaglik gelyk. Toe hulle haar kom haal het, het die emosies my heeltemal oorweldig..al die maande se stres en spanning het te veel geraak vir my.

Ek het in die teater by Heleen gesit en kon niks sien wat hulle doen nie. Die narkotiseer het Heleen lokaal verdoof. Heleen se sy kon voel hoe hul deur alles sny, maar het geen pyn ervaar nie. Ek het nie gekyk nie, maar was geweldig verlig toe ons haar hoor skreeu. Dit was maar lelik: bloed en guts, maar Anja was perfek. Hulle het haar onmiddelik suurstof gegee en geweeg: 1.9 kg , maar sy sou nog 10% verloor gedurende haar tyd by die neonatale eenheid. Anja sou nog 2 weke in die neonatale eenheid bly.

Sy het die eerste ruk baie gesukkel met haar longe en sy het CPAP ontvang. Dit is 'n masjien wat suurstof in haar longe inblaas deur haar neus en lyk amper soos 'n snorkel.

Verder het sy geel geraak en ook vergeet om asem te haal van tyd tot tyd. Paar dae na haar geboorte het sy ook erg begin desatureer .(longe verloor die kapasiteit om suurstof op te neem)

Na die einde van die eerste week het dinge egter verbeter met hier en daar weer 'n terugslag. Heleen is ook ontslaan uit die hospitaal, maar was maar die heeltyd langs Anja se broeikas. Ons het alles weer ervaar in die tyd toe Mia ook vroeggebore was. In die dag het Heleen vir Anja vasgehou en ek in die aande. Sy is so vrek klein en broos. Mens besef nie aldag die wonder van die pratige lewe nie. Ons het onmiddellik lief geraak vir Anja en elke klein vordering dop gehou.

Gisteraand het Heleen ingeslaap by die hospitaal om vanoggend ontslaan te raak. Ons kan nie meer wag om haar by die huis te he nie. Dit is nou al drie weke vandat Heleen in die hospitaal opgeneem is. Heleen se vir my sy soek iets van Erik in Anja, want hulle kom dan van dieselfde plek af: Die hemel. Een lewe is weggevat en 'n ander is weer gegee aan ons, maar die kosbare lewe van Anja kan nie die leemte van Erik wegvat nie. Ons voel dat ons drie kinders moet he, nie twee nie. Ons was beroof.

Anja is nou deel van ons nuwe gesin. Mia is so opgewonde oor Anja..sy kon nie slaap gisteraand nie. Vanoggend eerste ding se sy: Anja kom vandag!! 'n Nuwe fase van ons lewe begin vandag. Ons kan nie meer wag nie!!






























































































































3 comments:

Annemie Stimie said...

Ek is so bly Anja is tuis! Ek hoop dit gaan goed met al drie die vrouens in jou lewe. Julle is 'n baie spesiale gesinnetjie.

Anonymous said...

Hi Ricus! my keybord is papnat en my neus loop vinniger as die trane uit my oe. ek dink nie ons sal ooit besef of weet of voel waardeur jy en Heleen gegaan het nie. ek het per toeval vir heleen gevra ek wil sooo graag sien hoe lyk Anja en sy het toe gese ek moet na jou blog kom kyk. ek was so bekommerd en half histeries die dag toe Anja gebore is. ek het nie jou sel nommer nie en dit het my mal gemaak omdat ek nie Heleen op haar foon in die hande kon kry nie! al wat ek kon kry was 'n sms om te se sy weeg 1,9kg en sy het lang vingers en baie hare en is op cpap. ek was buite myself want ek wou weet hoe gaan dit met Heleen. hoe sy voel en of sy ok is. ek wou weet of jy en Mia ok is. hoe Mia voel oor haar nuwe sussie en hoe sy gereageer het toe sy haar sussie sien? en ja ek wou ook weet of Anja dalk soos Erik lyk? en het dit enige gevoelens teruggebring oor Erik? dit was aaklig om geen nuus te ontvang nie maar ek het geweet dit is 'n kritieke tyd in julle lewe en ek het spasie gemaak daarvoor. en die 1ste keer toe ek uiteindelik met Heleen kon praat oor die foon, het ek gehuil van vreugde! my vriendin het so goed en gelukkig en rustig geklink. sy kon nie genoeg vir my verstel hoe content sy is nie. dat Mia mal is oor haar sussie en dat dit so goed gaan tussen jou en haar en dat sy so gelukkig is met haar baba in haar arms. en dit het my rustig gemaak en vir my vrede gegee. weet jy hoe spyt is ek dat ek nie op Erik se begrafnis was nie? heleen het gevra dat ek nie moet kom nie omdat dit alles net te veel gaan wees. maar ek het nog nie afskeid geneem van Erik nie. dit is 'n gedeelte in my hart wat nog afgehandel moet word. my beste vriendin het haar baba verloor en ek was nie daar nie. ek het nog nodig om afskeid te neem. dit voel soos 'n leemte in my lewe. ek en Heleen het nog altyd belangrike dinge in ons lewe met mekaar gedeel, maar ek het uitgemis op Erik. en ek voel so sleg en leeg daaroor. ek was nie daar vir my vriendin nie.as ek hoor hoe Heleen ook praat oor julle geloof en christenskap, weet ek julle is in God se hande. en jy is so goed vir my beste maatjie!dankie dat jy so mooi vir haar sorg, na haar kyk en lief is vir haar. sy is content met haar lewe agv jou en ek dank God vir die wonderlike mens wat jy is! dankie Ricus

Anonymous said...

Dankie vir jou mooi woorde Bearice, ek het ook 'n blog geskryf oor Erik se dood: not for the faint hearted..lees gerus
Ricus